Een paasnaweek het ons gesin by
Marakele Nasionale Park gaan kamp. Ons het so teen vieruur die middag daar
aangekom en kamp opgeslaan. Toe ‘n kort draaitjie gaan ry voordat ons aan
kosmaak gekom het. Ek hou nogal daarvan om eers teen sononder vuur aan te pak.
Ek dink net dis meer gesellig as dit donker is as mens om die vuur kuier.
So gesê so gedaan. Ons sit toe om
die vuur met die rooi wyntjies en gesels. Vrou en seun en ek sit en my dogter
staan oorkant my. Ons is so entjie van
die karavaan af toe ons ‘n onaardige knol hoor en Mariska vra: “Pa, wat was
dit?” Grapjas wat ek is, seg ek toe: “Aag seker net ‘n renoster wat gepoep
het!” soos blits staan sy binne in die woonwa se deur.
Ma en Ramòn staan toe ook maar op
en beweeg versigtig na die karavaan se kant. Ek tel toe maar die kollig op en
skyn die lig so oor my linker skouer in die rigting vanwaar daar teen daardie
tyd ook so effense reukie in ons rigting gewaai het, en so wraggies, daar so 20
meter van my af staan ‘n renoster en haar kleintjie en gras vreet met hulle
boude na ons toe. Die renoster het gepoep.
Ek gaan toe na die ander
kampeerders en roep hulle om te kom kyk en fotos neem.
Gelukkig is die renosters om die
kampplek sommer baie rustig en gewoond aan mense. Feit is dat die mite dat
renosters vuur dood trap net ‘n mite is.
Tot wederom.
BOENDOETREKKER
Aka Isak de Lange