Isak het gevra dat ek iets moet skryf oor kampering vanuit ‘n
vrou se oogpunt.
In die eerste plek is ek glad nie ‘n kenner op die gebied van
kampering nie. Persoonlik hou ek van my gerief wanneer ek op vakansie is maar
toe Isak my vra of ek saam met hom sal gaan kamp het ek sonder om te dink
toegestem. Gee maar my nuuskierige natuur die skuld vir die impulsiewe
antwoord. Agterna het ek nogal gewonder hoe ek dit sal hanteer. Toe ek dit aan my
kinders noem het hulle uitgebars van die lag - seker gedink hul ma het haar kop verloor. Immers ken hulle my nukke en
grille baie goed. En kamp was defnitief
nie een van my voorkeure nie. Gelukkig is ek ‘n aanpasbare mens en toe ons op
ons eerste kamp ondervinding saam weg gaan was ek opgewonde oor die nuwe
avontuur.
Daar aangekom was ek aangenaam verras oor Isak se
kampgeriewe. Alles was daar, van ‘n tweeplaat stofie tot waaier – op ons
ouderdom kan ons mos nêrens gaan sonder die vernuftige toestel nie. Breekgoed,
spesiale rakkies vir die skottelgoed, opvoubare handdoekreling, tafel en stoele
met die oulikste tafelmatjies. Met genoeg pakplek vir ons naweeklange proviand.
Selfs die bed was gerieflik, behalwe vir die feit dat ons bly rol het na die
binnekant toe… Ek wonder of dit nie met opset so gedoen was nie… LOL
Selfs nog voor ons gearriveer het was die inpakslag alreeds ‘n
kykie van hoe die naweek sou wees. Elke item het ‘n krat gehad en alles was
netjies verpak. Blikke is volgemaak, wynrak gevul, messestel in hul eie
verpakking – net niks het ontbreek nie. Instruksies
was natuurlik gegee van hoe en waar ek moet pak en ek het maar ingeval by die
kamp-kommandant se bevele.
Als was op hul plek, selfs die kleur skema was presies soos
wat ek daarvan hou. (As daar een ding is wat ek haat is dit om honderde pakkies
rond te dra tussen kar en blyplek.) Die kratte het als bevat en was netjies in
die bakkie gelaai sodat selfs die uitpak en die inpak Sondagmiddag seepglad
gegaan het. So sonder enige probleme of dat jy moeg gedra is.
Die te kort aan spasie is natuurlik iets waaraan jy moet
gewoond raak veral in die kamer.
Daar was nie ‘n kas waarin jy jou goedjies kon
uitpak nie so uit-die-sak-leef was die inding maar dit was nie ‘n probleem nie
juis omdat die res van die dinge reg was. Die enigste verskil was die baksteen
mure was vervang met tentflappe.
Die lampe en kerse die ideale atmosfeer-skepping vir ‘n tydjie weg van die gewoel.
Die lampe en kerse die ideale atmosfeer-skepping vir ‘n tydjie weg van die gewoel.
Ons het ‘n aangename tyd gehad daar langs die Vaalrivier. Voor
ons weg is het ek nog in alle wysheid gesê dat die naweek die maak of breek
van ons nuutgevonde verhouding sou wees en dit was ‘n geslaagde toets vir ons
eerste uitstappie. Danksy Isak se vernuftige manier van kamp met als op hul
plekke het dit toe beter uitgedraai as wat ek gedink het dit sou wees. En met die volgende kamp was daar geen twyfel nie en beplan ons alweer vir die volgende uitstappie.
Vanuit 'n vrou se siening hang dit seker als af van die uitleg, beplanning en uitvoering van die ervaring. Ek het al riller stories gehoor maar noudat ek dit self ondervind het kan ek dit met 'n geruste hart aanbeveel. Ek het natuurlik nog heelwat om te leer maar ek glo met Isak se leiding sal ek dit ook onder die knie kry.
Op die ou einde kon ons die natuur, die rustigheid en die Bos-TV geniet onder ‘n skoon hemelruim. Nou watter vrou hou nie daarvan nie... (pak maar net Peaceful sleep in en gemaklike skoene. Hakkies is gewis uit!)
Boendoe groete
Lynelle
No comments:
Post a Comment